Vernon Barnard kerf ‘n nuwe genre in Afrikaans met sy vars internasionale klank, en hierdie is beslis ‘n liedjie wat ons in Afrikaanse musiek kort!
Vernon vertel toe hy die eerste keer die lied hoor het hy geweet dat so lied nie elke dag oor jou pad kom nie en dat hy graag sy naam en stem aan dit wil koppel. Sonder dat mens dit bedoel kan jy verby mekaar leef en die elke dag dingetjies verby kyk, die mooi mis en vergeet om te sê ‘ek is lief vir jou’, ń eenvoudige ‘dankie, jy is mooi vir my’. Dit is juis daai klein dingetjies wat groot goed word.
“Mens stry partymaal omdat jy omgee, jy baklei want jy het rede om te bly” sê die liedjieskrywer, Roelf Fritz. En dit is presies waaroor Bedoel gaan.
Terloops is beide Vernon die sanger en Calvin Botha die vervaardiger van die lied deel van die blinde gemeenskap.
KORT BIOGRAFIE:
Vernon Barnard, gebore in 1993 in die Strand, Wes-Kaap, is ’n bekende Suid-Afrikaanse sanger, liedjieskrywer en motiveringspreker. Hy het nasionale erkenning verwerf as ’n finalis op The Voice South Africa in 2016 en wêreldwyd opslae gemaak met sy Blinde Oudisie van One Direction se Story of My Life, wat meer as 28 miljoen kyke op YouTube en 32 miljoen op Cienradio.com, ’n Suid-Amerikaanse aanlynplatform, behaal het. Die video is op verskeie sosiale media platforms benoem as een van die beste vertolkings en mees emosionele uitvoerings van ’n lied.
Vernon se musiekloopbaan het in beide Afrikaans en Engels geblom, met talle toekennings en nominasies. Sy debuutenkelsnit in Engels, I Like It That Way, is in 2017 aangewys as Beste Nasionale Lied van die Jaar by die OFM Golden Note-toekennings. Sy Afrikaanse debuut, Daai Liedjie, is vir verskeie toekennings benoem, insluitend drie Bokkie-toekennings en ’n Tempo Huisgenoot-toekenning. Sy eerste album, Deur Jou Oë, het duisende kopieë verkoop en is in 2019 vir ’n Ghoema-toekenning benoem.
Bekend vir sy rou, emosionele vertellings en kragtige stem, het Vernon se enkelsnitte gereeld die Suid-Afrikaanse trefferparades gehaal. Verder is hy ook tans besig om homself as musiekprodusent en stemafrigter te vestig en het talle opwindende projekte in die vooruitsig.
Benewens sy musiek is Vernon ’n toegewyde motiveringspreker wat gehore inspireer met sy persoonlike reis en lewensfilosofie: “Turn Your Pain Into Power.” Hy het al verskeie geleenthede aangebied, insluitend die OFM Own It-reeks en korporatiewe spanbou-seminare.
Met sy onwrikbare passie om ander te inspireer en sy onmiskenbare talent, laat Vernon Barnard ’n blywende indruk – op én van die verhoog af.
Youtube: https://www.youtube.com/channel/UCR6VMqcylL_x2Asd4kGKAFQ
Facebook: https://www.facebook.com/VernonBarnardArtist/
Instagram: https://www.instagram.com/vernonbarnard/
Spotify: https://open.spotify.com/artist/2TPxotA1MPCxSlIBSWrJX5?si=dtmbOqLsTOOdXP64sqhPeA
Apple Music: https://music.apple.com/za/artist/vernon-barnard/1113546227
Bron: Nuelight