Herleef herinneringe met Vabond se nuwe enkelsnit – Potchefstroom:

Die Afrikaanse rockgroep Vabond stel met trots hul splinternuwe enkelsnit, Potchefstroom, bekend – ’n nostalgiese musikale reis wat luisteraars terugneem na ’n tyd toe trots, veiligheid en gemeenskapsgees die landskap van Suid-Afrika gedefinieer het.

Met ’n kalm, akoustiese aanvang wat stadig opbou na ’n kragtige klimaks, word Potchefstroom gedra deur Phillip Merensky se sielvolle vokale vertolking, gevolg deur die volle energie van die groep. Die vyf lede van Vabond is elkeen meesters van hul instrumente, en speel alles self – wat die lied ’n rou, egte Afrikaanse rockklank gee.

“Roelf Fritz van Zondagkraal het die lirieke geskryf, en Vabond het dit met trots getoonset,” sê die groep. “Ons passie leef in ons instrumente. Elke noot is ’n weerspieëling van jare se toewyding en liefde vir musiek.”

Potchefstroom is nie net ’n lied nie – dit is ’n huldeblyk aan oorspronklike Afrikaanse rockmusiek.

“Dis eg. Dis uit ons harte en siele,” sê Jimmy Burger, drommer van Vabond.

Vabond het reeds ’n sterk indruk gemaak op die Afrikaanse musiektoneel. Hul vorige enkelsnit, Staan op en sing, het die nommer 1-posisie op Lekker FM en Sabie Stereo bereik, terwyl die musiekvideo meer as 56 000 kyke op YouTube verwerf het.

“Dit is wonderlik om te sien hoeveel mense nog luister na oorspronklike Afrikaanse rock. Daar is plek vir elke genre in Afrikaanse musiek, maar ons hart lê by rock. Ons aanhangers strek van studente tot pensionarisse – dit bewys dat Afrikaanse rock steeds ’n blink toekoms het,” sê Jimmy, wat vanuit Centurion die groep se bemarking en besprekings hanteer.

Vabond het op 5 Augustus 2025 ’n groot mylpaal bereik toe hulle by die Afri-Indie Musiektoekennings aangewys is as “Beste LIVE Band”.

“Ons is werklik geëerd om hierdie toekenning te ontvang,” sê Jimmy. “Die kompetisie was ontsaglik sterk, maar ons dra hierdie titel met trots. Elke lid het ’n leeftyd se werk in sy kuns gesit, en dit is ongelooflik om erkenning daarvoor te kry.”

Laat Potchefstroom die klankbaan wees van jou herinneringe – draai hom kliphard en herleef die gees van Afrikaanse rock, saam met Vabond.

Bron: Rea le Roux

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *