Zahn het reeds meer as ’n dekade in die musiekbedryf naam gemaak en is bekend vir haar veelsydige stem wat met gemak tussen sagte pop, rock, kabaret en gospel beweeg. Haar liefde vir musiek het reeds in haar kleuterjare begin, en teen graad 1 het sy geweet dat sy eendag op die verhoog wou wees. Sy het haar sangvaardighede slyp deur eisteddfods, kunstefeeste en nasionale kompetisies soos Crescendo, waar sy tussen die topfinaliste geëindig het.
Die talentvolle sangeres bring haar jongste enkelsnit, “God se Juwele”, aan die publiek – ’n kragtige gospel-lied wat nie net musikale diepte het nie, maar ook ’n buitengewone storie van hoop, genesing en geloof agter die skerms dra.
Die lied, geskryf deur die bekroonde liedjieskrywer Roux Cloete en vervaardig deur Ettienne D Lane, is oorspronklik in 2018 opgeneem tydens die finale fases van Zahn se MASKER-album. Wat as ’n gewone opnamesessie begin het, het onverwags ’n toets van geloof en vasberadenheid geword.
Terwyl Zahn en haar span in Kaapstad aan die laaste drie snitte van die album gewerk het, het sy skielik haar stem verloor – presies op die kritieke oomblik. “Ek was doodsiek, my stem was weg en ons fondse was op. Ons het geweet daar is geen kans vir nog ’n vlug of ekstra studiosessies nie,” vertel Zahn. “Ons het eenvoudig begin bid en die Here gevra om in te tree. En toe gebeur die wonderwerk – ek kon nie met Ettienne praat nie, maar sodra ek voor die mikrofoon gestaan het, was my stem daar. Stuk vir stuk het ons die laaste drie snitte voltooi, insluitend ‘God se Juwele’.”
Die lied dra ’n diep geestelike boodskap: Ons is God se juwele – uniek gevorm, verfyn en waardevol. Soos ’n diamant wat geslyp word, werk God daagliks aan ons om die beste weergawe van onsself te vorm. Dit herinner luisteraars dat niemand perfek is nie, maar dat Sy vergifnis altyd beskikbaar is.
“Ek is nie ’n tradisionele gospel-sanger nie,” sê Zahn. “Ek plaas geen etiket op my kuns nie – ek deel eenvoudig my reis, my hart en my geloof met die wêreld. Ek is nie heilig nie, ek is mens. Maar ek het ’n persoonlike verhouding met God, en ek weet Hy het my gebring waar ek vandag is.”
Elke keer as Zahn die lied uitvoer, sien sy hoe dit mense diep emosioneel raak. “Ek glo dis omdat die lirieke eerlik is. Ons almal het daardie oomblikke wanneer ons voel ons val kort, maar God se genade bly konstant.
In haar loopbaan het Zahn verhoog gedeel met van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars, insluitend Steve Hofmeyr, Jakkie Louw, Nadine, Monique Steyn, Helena Hettema, Arno Jordaan, Juan Boucher, Kevin Leo, Dozi en vele ander. Haar musiek loopbaan sluit ook twee suksesvolle Kaap-toere in, asook internasionale optredes.
Sy het al 22 liedjies opgeneem, waarvan “God se Juwele” haar 8ste amptelike digitale vrystelling is. Haar vorige enkelsnit, Geval vir Jou, het besonder goed gevaar, wat die weg baan vir groter projekte en internasionale geleenthede. Buiten haar werk as sangeres, is Zahn ook besig met voorbereidings vir internasionale kontrakte op passasierskepe – ’n droom waarna sy vier jaar lank gestreef het.
Zahn se unieke benadering tot musiek – eerlik, rou en emosioneel eg – maak dat haar vertolkings altyd die hart tref. Sy beskryf haarself as ’n kunstenaar wat geen “etikette” op haar werk plaas nie, maar eerder stories vertel wat mense laat voel, dink en glo.
Zahn se unieke benadering tot musiek – eerlik, rou en emosioneel eg – maak dat haar vertolkings altyd die hart tref. Sy beskryf haarself as ’n kunstenaar wat geen “etikette” op haar werk plaas nie, maar eerder stories vertel wat mense laat voel, dink en glo.
VIR MEER INLIGTING OOR DIE ENKELSNIT EN KUNSTENAAR, KONTAK:
EMBRACE THE BRAND MEDIA
Christien de Klerk: christiendeklerk7@gmail.com
VOLG HAAR OP:
Facebook – https://www.facebook.com/share/15FrEN3okM/
Instagram – https://www.instagram.com/zahn_artistnew?igsh=bTM3cjFvbnZpYWFn
YouTube – https://youtube.com/@zahn_artist?si=0euY6X1dn4aWK0Bg
TikTok – https://www.tiktok.com/@zahn_sings?_t=ZM-8vWNVvPdCUQ&_r=1
Bron: Embrace the Brand Media